Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Rustenburgers wat vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie moes ry en nie soos baie ander Suid-Afrikaners êrens langs die kus 'n regte seevakansie geniet het nie, kan gewis oor een ding nie verskil nie - vir 'n groot deel van die Desember-skoolvakansie was dit vrekwarm, indien nie helwarm nie. 
Suid-Afrikaners het trouens reeds van die begin van verlede jaar af gehoor dat 'n warm jaar op pad is en dat dit in 2023 waarskynlik nie soveel sou reën soos die vorige jaar nie - die meeste mense sal nog onthou dat Rustenburg en die grootste dele van die land twee jaar gelede ongekende hoeveelhede reën gekry het.

Vir 2023 en volgens voorspellings ook vir 2024, gaan nie prentjie nie naastenby dieselfde lyk nie en is daar inderwaarheid 'n El Nino-jaar op hande waarin warm termperature met min reën aan die orde van die dag sal wees. 
Met behulp van Charlie Graham van Geelhout Gardens se altyd betroubare temperatuur- en reënsyfers, het ons 'n bietjie gaan kyk hoe vanjaar se November-, Desember- en Januariesyfers gelyk het. Aan die hand van sommer net 'n paar syfers is dit duidelik dat die verskynsel van sogenaamde aardverwarming nie 'n versinsel is nie - daar is min twyfel dat ons die afgelope Desember-vakansie sekerlik die warmste kersseisoen ooit beleef het. Dit is ook interessant om te sien dat die hoeveelheid reënval net so dramaties afgeneem het soos wat maksimumtemperature oor die afgelope twee jaar toegeneem het. 
So, wat sê die syfers vir ons? 
In November 2022 is 'n totaal van 339.6 mm by Geelhout Gardens gemeet - in November 2023 - 'n skamele 66.4mm. In Desember 2022 is daar 280.8 mm in Rustenburg gemeet terwyl ons in Desember 2023 'n totaal van 134 mm gekry het. In Januarie 2023 het slegs 36 mm se reën oor Rustenburg uitgesak terwyl Januarie 2024 'n droewige Januariemaand was met slegs 13.2 mm wat by Geelhout Gardens gemeet is. Aan die hand hiervan behoort dit ook duidelik te wees dat voorspellings vir 'n El Nino-jaar deur die SA Weerdiens heeltemal korrek geblyk te wees het. 
Dit is egter die skielike en gereelde toename in daaglikse maksimumtemperature wat oor die afgelope twee jaar se November-, Desember- en Januariemaande onweerlegbaar getoon het dat aardverwarming pens en pootjies met ons is. 
In November 2022 is daar slegs een keer vir die hele maand (18 November 2022) gesien dat die maksimumtemperatuur hoër as 35°C was toe 35.2°C aangeteken is. November 2023 was egter 'n ongehoorde warm maand en die rekordboeke wys vir ons dat dit in dié maand nie minder nie as 23 gebeur het dat die maksimumtemperatuur hoër as 30°C was - die syfers lees soos 'n rillerverhaal - met temperature wat vir dae lank selfs bo 36°C gedraai het en dit boonop in November wat tradisioneel nie so 'n vreeslike warm maand is nie. Só het dit gebeur dat dit in November 2023 nege keer gebeur het dat die maksimumtemperatuur bokant 36°C was met die twee hoogste syfers 38.3 mm (22 November), en 38.9 mm (27 November). Boonop was die maksimumtemperatuur tussen 22 tot 27 November nie een keer laer as 37.7°C nie. 
Min of meer dieselfde patroon het in Desember 2023 gevolg met heelwat meer warmer dae as die voorgaande Desember. Byvoorbeeld - in Desember 2022 was dit slegs by een geleentheid (25 Desember 2022) dat die kwik hoër as 35°C gedraai het toe presies 35.1°C gemeet is. In Desember 2023 het Rustenburgers ongetwyfeld die skadukolletjies onder die bome opgesoek toe temperature minstens 12 keer anderkant 30°c gedraai het met die twee warmste dae op 21 en 22 Desember met onderskeidelik 38.6°C en 37.4 °C. 
Maar dalk is daar tog hoop dat temperature binnekort 'n bietjie kan afneem. Met Januarie vanjaar wat nog in sy kinderskoene staan het dit nog slegs een keer gebeur dat die kwik tot hoër as 35°C gestyg het toe daar op Sondag, 7 Januarie 2024 36.1°C gemeet is. In Januarie 2023 het dit nie minder nie as ses keer gebeur dat maksimumtemperature hoër as 35°C gemeet is. 
Oor die afgelope vyf dae was Rustenburg geseënd met 'n paar ligte buitjies wat telkens verligting teen die feitlik ondraaglike hitte gebring het. Syfers vir die afgelope vyf dae lyk so: 
5 Januarie - 2.5mm; 6 Januarie - 1.6mm; 7 Januarie - 6.4mm; 8 Januarie - 0.8mm en 9 Januarie - 2mm. Rustenburg Herald bedank Charlie Graham vir die gebruik van sy weer- en reënvalstatistiek wat vir ons wys of ons die dag die sambrele en/of die truie moet saambring werk toe.