RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Dit is met leedwese dat Rustenburg Herald vandeesweek berig oor die afsterwe van sekerlik een van die Platinastad se “grootste” vroue - die legendariese Ans van Zyl - wat Vrydagoggend by die huis van haar dogter in Pretoria vreedsaam in haar slaap oorlede is.
Wyle tannie Ans was 94 jaar oud.
Ans is gebore in die Carnarvon-distrik in die Karoo en het nooit haar liefde vir die Karoo ontgroei nie, hoewel sy feitlik haar lewe lank in Rustenburg gebly en haar drie kinders grootgemaak het.
Sy was vir baie jare getroud met wyle dokter Johan van Zyl - iemand wat ook ‘n baie groot rol in die Rustenburg-gemeenskap gespeel het en in ‘n stadium burgemeester van Rustenburg was.
Hier teen die hange van die Magaliesberg het sy diep spore getrap en was sy baie betrokke by die gemeenskap. Sy het op verskeie komitees gedien en het haar man as burgemeestersvrou ondersteun. Sy was uiters talentvol in alles wat sy aangepak het - koskook, bak, konfyt maak, naaldwerk en alle vorme van kuns (veral waterverf). Sy was baie intelligent, het baie gelees en het ‘n fyn sin vir humor gehad en kon die mooiste stories skryf.
Haar groot liefde was egter die VLU en Rustenburg Skou waar sy haar talente uitgeleef het. Niks het vir haar meer vreugde verskaf as om haar konfytkook en ander kennis te deel met almal wat belanggestel het. Sy was in die laaste dekade van die Rustenburg Skou een van drie vise-presidente (die enigste vrou) van die Rustenburgse Skougenootskap. Sy het vir baie jare in hierdie hoedanigheid gedien. Sy het die laaste 12 jaar van haar lewe by haar dogter Lelanie in Pretoria gewoon.
Tannie Ans is as ‘n wonderlike ma, ouma en vriendin beskryf en haar kinders en kleinkinders sal haar altyd dankbaar wees vir haar uitstekende voorbeeld en ryk nalatenskap. “Ons gaan haar ontsettend mis,” het haar dogter Lelanie gesê.
Tannie Ans se afskeidsdiens vind eerskomende Saterdag, 24 Mei, om 12:00 vanuit die NG Kerk Stellastraat, te Stellastraat 154, Waterkloof, Pretoria plaas.