RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Die NG Kerk Rustenburg-Suid (hoek van Kerk- en Uniestraat) hou op 23 en 24 Mei die gemeente se Kultuur Karnaval wat vermaak beloof vir oud en jonk.
Die karnaval skop op Vrydagaand, 23 Mei om 18:00 af met 'n volbloed-koorfees waarin verskeie plaaslike hoër- en laerskoolkore gaan optree.
Dié koorfees behoort veral groot byval te vind by leerlinge van die onderskeie skole sowel as Rustenburg se liefhebbers van "ernstige" musiek en talle van die gemeente se senior-lidmate.
Benewens die musiek sal allerlei kosstalletjies met lekker worsbroodjies, kerrie-en-rys, Chipsticks en 'n verskeidenheid soetgoed vir die jonger geslag en die jonges van gees se deure wawyd oop wees. Karnavalgangers word aangemoedig om te kom inloer en sommer hier die gesin se aandete te kry. Onthou - die terrein is uitstekend verlig en veilig - volop veilige parkering sal ook beskikbaar wees.
Op Saterdag, 24 Mei, moet karnavalgangers sommer weer vroeg uit die bed spring om gereed te wees vir die Karnaval wat vanaf 09:00 voortgesit sal word. Op die program is opwindende aktiwiteite soos boeresport, mark- en kosstalletjies, dansoptredes en geselsies met ou en nuwe vriende. Die jonger geslag kan hul vernuf met koekversiering kom demonstreer in 'n spesiale kompetisie wat die "Klein Koekedoortjie-kompetisie" gedoop is. Natuurlik sal daar ook heerlike pannekoek beskikbaar wees - dit is nie 'n geheim dat NG Suid vir jare al vir hul heerlike pannekoek bekend is nie. Vir mense wat in hierdie stadium nog belangstel om stalletjies te beman, is daar nog volop geleentheid teen bekostigbare pryse. Kontak gerus die kerkkantoor by 071 436 0102 vir alles wat u wil en moet weet!