Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - “Ja, daar is darem nog so hier en daar eerlike mense met integriteit in hierdie land”. 
Voorgaande is omtrent die gemiddelde reaksie van mense wanneer hulle die storie met ‘n gelukkige einde van mnr Johan Human (‘n pensioenaris) van Hexrivier Landgoed Estate net buite Rustenburg hoor. Enigiemand sal saamstem dat hierdie ‘n storie is wat nie aldag meer in Suid-Afrika gehoor word nie - bittermin mense is vandag nog eerlik in die tye waarin almal maar net altyd geld nodig het... 
Mnr Human (82) was op 18 Januarie saam met sy dogter, skoonseun en kleindogter in die Waterfall Mall-inkoopsentrum vir inkopies en daarna terug na hul motor wat in die parkeerarea geparkeer was. 

Feitlik onmiddellik nadat hulle die motor aangeskakel en vertrek het, is daar eers weer vinnig stilgehou en sitplekke omgeruil om vir almal ‘n gemakliker rit terug huis toe te verseker. Dit was met dié dat mnr Human wat met sy beursie op sy skoot gesit het, dat die beursie natuurlik uitgeval en ongemerk in die pad beland het. Oomblikke later het konsternasie losgebars toe mnr Human en sy familie besef dat die beursie met presies R4 000 daarin, skielik weg is, maar na ‘n geskarrel en soektog is die stryd gewonne gegee met die vertroue dat die beursie hopelik êrens in die motor of in ‘n inkopiesak te voorskyn sou kom. Dit was egter maar ‘n skrale hoop... 
Nie ver daarvandaan nie was Machiel Koch (‘n inwoner van Koster) besig om na ‘n bakkie te kyk waarin hy belanggestel het en dit was met ‘n kort bestuurstoets in die omgewing dat hy iets wat soos ‘n beursie lyk, in die pad opgemerk het. Ten spyte van taamlike druk verkeer het Machiel die bakkie in trurat gesit en teen die verkeer in teruggestoot sodat hy die beursie kom optel. Groot was sy verbasing om te vind dat dit inderdaad ‘n taamlike “stywe” beursie was met ‘n kontantbedrag van presies R4 000 - so asof iemand hierdie bedrag vroeër reggesit het vir ‘n spesifieke transaksie. 
Nouja, bakkie koop of nie, Machiel het nie geswig voor die versoeking om die meevallertjie vir homself te hou nie maar persoonlike inligting soos ID-nommers, bankkaarte en so meer nagegaan voordat hy dit vir sy meisie Roline Bronkhorst gegee het om die res van die ondersoekwerk te doen. Op haart beurt het Roline die inligting aangestuur na ‘n kliënt van haar - ‘n polisiereservis wat in Klerksdorp woon - en sodoende is die kontakbesonderhde van mnr Human en sy dogter by wie hy by Hexrivier Landgoed woon - vasgestel. 
Verlede Woensdag was ‘n opwindende dag vir mnr Human en sy familie toe Machiel hulle in die Waterfall Mall ontmoet het en die beursie met die kontant en al die oorspronklike inhoud aan hulle terugbesorg het. Die dankbaarheid was groot en benewens ‘n biltongruiker met allerlei lekker eetgoed is daar ook ‘n klein beloning in die vorm van kontant as blyk van waardering aan Machiel oorhandig. Vir mnr Human en sy familie het hierdie storie ‘n gelukkige einde gehad. Uit alle oorde het bedanking, blyke van waardering en aanprysings vir Machiel en sy meisie Roline ingestroom terwyl Rustenburg Herald hard besig was met die reëlings om hierdie gelukkige storie met ons lesers en ander belangstellendes te deel.