Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Dit is vir baie inwoners van Rustenburg al ou nuus dat die Platinastad hier onder die Magaliesberg al talle wêreldbekende persoonlikhede opgelewer het - mense soos die kunstenaar Bettie Cilliers-Barnard, die voormalige Suid-Afrikaanse minister van buitelandse sake - Pik Botha en ander... 
Die piepklein dorpie Derby suidoos van Rustenburg stof die Platinastad egter proporsioneel myle ver uit as ‘n mens kyk na die twee grootste en beroemde persoonlikhede wat dié klein dorpie opgelewer het. 

Daar is sekerlik min mense wat nog nie van die wêreldbekende en roemryke operatenoor Johan Botha gehoor het nie - ja, kan jy glo - Derby se wêreld - dit blyk of dié gehuggie wil ‘n mens amper sê die ideale teelaarde is vir mense wat vir groot dinge bestem is? Vandag egter is Derby nie net bekend as die plek waar een van die wêreld se beroemdste operatenore grootgeword het nie, maar ook as die tuisdorp van die jongste internasionale tennissensasie - Joël Schwärzler wat vandag as die wêreld se beste O/18-speler gereken word. 
Benewens inwoners van Noordwes en Derby, is baie Suid-Afrikaanse tennisgeesdriftiges opgewonde oor die feit dat die jeugdige Schwärzler skynbaar bestem is om die tennistekkies vol te staan van Roger Federer - ongetwyfeld een van die “grootste” tennisspelers in die geskiedenis van dié sport. Net soos Federer het Joël ‘n Suid-Afrikaanse ma en ‘n Europese pa - onderskeidelik Switzerland en Oostenryk - twee lande direk langs mekaar. Joël se pa Matthias was op sy dag self ‘n kranige tennisspeler en het ironies genoeg, in sy jonger dae selfs sake teen Federer op die tennisbaan uitgespook. Joël se ma is die oud-Lichtenburger Illse Beckley en sy het Matthias - ‘n inwoner van Oostenryk in ‘n koffiewinkel in Pretoria ontmoet toe hy aan ‘n tennistoernooi in Suid-Afrika kom deelneem het. Hoewel Joël in Johannesburg gebore is het hy sy vroë kinderjare op ‘n plaas net buite Derby deurgebring waar Ilse se ouers Alf en Leonie Beckley - ook oud-Lichtenburgers - met beeste, komkommers en ander gewasse geboer het en waar die Schwärzlers in ‘n stadium gewoon het. 
Alf was op sy dag ‘n bekende prokureur in Lichtenburg wat besluit het om op Derby met beeste te gaan boer. Ilse was vir etlike jare die eienaar van ‘n bekende gastehuis in Vyfdelaan, Rustenburg. As jong seun was Joël ‘n leerder van die Spatzennest kleuterskool en die Deutsche Schule Kroondal waar hy op sewejarige ouderdom met tennislesse begin het. Joël het ook ‘n ouer broer Julian wat in Wenen gebore is. Joël het ‘n baie noue band met sy oupa en ouma op die plaas gehad en het baie van sy jeugjare hier deurgebring waar hy saam met sy oupa beeste aangejaag, komkommer geoes of met sy vierwiel-motorfiets gerinkink het. Hy het hier tussen die groenigheid van die eerste akkers hoëveld saam met sy twee nefies grootgeword. 
Die Schwärzlers het in 2013 na Oostenryk geëmigreer waar Joël se tennisloopbaan met mening vlamgevat het. Hy woon tans in Wenen, Oostenryk en kan jy glo - hy woon al vanaf 16-jarige ouderdom heeltemal op sy eie alleen in ‘n woonstel en doen self sy was- en kookwerk. (Kan jy glo - hy is versot op biltong, krummelpap en ProNutro?). Vir ses dae van die week oefen hy sewe ure per dag onder die wakende oog van sy bestuurder Galo Blanco van Barcelona, Spanje wat ook bekende spelers soos Andrey Rublev, Gael Monfils en Elina Svitolina onder sy vlerk het. Dan is daar sy “skaduwee” - afrigter Jürgen Melzer wat elke dag saam met hom op die baan is en hom na toernooie regoor die wêreld vergesel. Plekname van stede in Rusland, die Oekraïne, Italië, Duitsland, Frankryk en China is gereelde inskrywings in sy bedrywige dagboek. Hy was die afgelope jaar net vir agt dae by sy ouerhuis. Groot tennis is gewis in die bloed van die familie - Joël se ouer broer (Julian) het sy eie tennisakademie met dosyne jong kinders en nuwelinge wat by die sport betrokke raak. Dit is interessant dat Matthias in sy jonger dae ‘n lid van die Rustenburgse Gholfklub was. 
Joël is bestem om later vanjaar aan die Franse Ope, Wimbledon en die Amerikaanse Ope te speel waar hy vir al drie toernooi die nommer een-gekeurde O/18-speler is. Van sy topprestasies tot tot dusver is toe hy in 2022 as Europese O/16-kampioen gekroon is, sy oorwinning in die J500-toernooi in Repentigy Kanada, die algehele wenner van die J500 in Osaka, Japan, en die grootste van verlede jaar - die Chinese Chengdu Ope-toernooi waar hy prysgeld van VSA $18 500 as prysgeld in sy sak gesteek het toe die wêreld se agt voorste seunspelers teen mekaar te staan gekom het en hy as wenner van die baan gestap het. Daarbenewens het hy op relatiewe jong ouderdom reeds etike groot borgskappe uit die tenniswêreld se bekendste sportmaatskappye soos Red Bull, Head, asook ‘n internasionaalbekende farmaseutiese maatskappy. Rustenburgers wat graag Joël se prestasies wil volg, loer gerus op Instagram account Joël Schwärzler of google hom...