GEMSBOK-MOTHIBISTAD: ’n Video wat wys hoe ‘n, oënskynlik dronk - Noord-Kaapse polisiekonstabel steier en langs die pad val, het die afgelope week soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei.
Lt Kol Mashay Gamieldien, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê ‘n dienskonstabel verbonde aan die Mothibistad-polisiestasie is die naweek deur sy kollegas aangekeer omdat hy na bewering ‘n staats-voertuig bestuur het terwyl hy onder die invloed van drank was.
Gamieldien het gesê die konstabel het reeds voor die Mothibistad-landdroshof verskyn - op aanklag van dronkbestuur, nalatige en roekelose bestuur en vir die gebruik van ‘n staatsvoertuig sonder die eienaar se toestemming veren is tans uit op borgtog.
Vier sterf toe bakkie en trein bots
GEMSBOK-POSTMASBURG: In ‘n ontstellende ontwikkeling, minder as 72 uur ná ‘n soortgelyke ongeluk by ‘n spooroorgang in Mpumalanga, waar ‘n Transnet-trein met ‘n skoolbus gebots het, het nog ‘n ernstige voorval by die Tsantsabane- en Groenwater-spooroorgang, net buite Postmasburg in die Noord-Kaap, plaasgevind.
(Ses leerders van 16 tot 18 jaar oud is dood en tien ander ernstig beseer in die ongeluk by Mpumalanga).
Dié tragiese gebeurtenis, wat op 4 Augustus omstreeks 14:00 plaasgevind het, het tot vier sterftes en twee kritieke beserings gelei.
Die slagoffers was insittendes van ‘n bakkie wat met ‘n Transnet Freight Rail-trein gebots het.
Vier met dwelms ter waarde van meer as R180 000 betrap
GEMSBOK-SPRINGBOK: Die Springbok-polisie het, met die arre-stasie van vier verdagtes en die beslaglegging op onwettige middels ter waarde van meer as R181 000 in Nababeep, aansienlike vordering gemaak in die stryd teen dwelms.
Volgens die Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Sergio Kock, het lede van die Springbok SAPD Openbare Orde Polisie, B-Platoon, klopjagte op vermeende dwelmhuise in Nababeep uitgevoer.
Kock het gesê die operasie het op 25 Julie omstreeks 20:40 plaasgevind.
Onwettige mynbou aangespreek - 22 onwettige myners vasgetrek
GEMSBOK-KLEINZEE: Die polisie bly daartoe verbind om met alle relevante belanghebbendes saam te werk om die uitdagings van onwettige mynbou in die Noord-Kaap aan te spreek.
Die multidissiplinêre spanne bestaande uit die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), die Departement van Binnelandse Sake Immigrasiedienste, Springbok K9 en Port Nolloth Misdaadvoorkomingseenhede sowel as Provinsiale Verkeersbeamptes, het 22 verdagtes vir onwettige mynbou gearresteer en oortreding van die Immigrasiewet tydens bedrywighede wat op Donderdag, 25 Julie 2024 begin het.
Die span in die Na-makwa-distrik het 15 (vyftien) ongedokumenteerde immigrante tydens voertuigkontrolepunte (VCP’s) by die Port Nolloth/Kleinzee-kruising en Bontakoe informele nedersetting aangehou.
Die span het ook verkeersboetes vir verskeie verkeersoortredings uitgereik. Die verdagtes word aangehou om deur die amptenare van die departement van binnelandse sake se immigrasiedienste verwerk en geverifieer te word voordat hulle formeel aangekla en aan die hof voorgelê word vir deportasie. Daar is tydens bedrywighede beslag gelê op talle mynimplemente wat vermoedelik gebruik word in die pleging van onwettige mynmisdrywe.
Drank en dobbelrampokkers in Upington gevang
GEMSBOK-UPINGTON: ’n Multi-agentskap-operasie in Upington het beduidende resultate opgelewer toe wetstoepassers onwettige bedrywighede vasgevang het.
’n Woordvoerder van die ZF Mgcawu-distrikspolisie, sers. Omphile Masegela, het gesê die “Operasie Shanela”-inisiatief was gerig op onwettige dobbelary, tweedehandse goederehandelaars wat nie voldoen nie, drankhandelaars en taxi-operateurs.
Masegela het gesê die operasie is op 25 Julie uitgevoer en het beamptes van die Upington SAPD, Grenspolisie, Openbare Orde Polisie en K9-eenhede sowel as Munisipale Verkeersbeamptes betrek. Dit het taxi-staanplekke, tweedehandse goederewinkels en vermeende onwettige drankafsetpunte geteiken.
Nakomingsinspeksies het by die plaaslike taxi-plaza en tweedehandse goederewinkels plaasgevind.