Laerskool Gerdau het ‘n Boeredag gehad, en nie sommer ‘n gewone Boeredag nie - daar is ‘n gewoel en gewerskaf by die skool. Menige bemarkers het uitstallings gehad, maar die hoogtepunt was die demonstrasie deur AgTech NWK met ‘n hommeltuig, die DJI T50. Die leerders het dit baie geniet en hulle verkyk aan die hommeltuig wat gif gespuit en kunsmis gestrooi het op die sportgronde. Laerskool Gerdau sê baie dankie aan almal wat deel gehad het daaraan om die dag suksesvol te maak.
Crossfit Battle is groot
Die Barbells & Coffee Mugs Crossfit kompetisie, The Battle, vind plaas van 6 tot 8 September tussen Krugersdorp en Pretoria. Drie spanne gaan deelneem. Die kompetisie trek elke jaar deelnemers van regoor die land. Op die foto verskyn Lizè Brits, Roné Badenhorst, Marlene Weyer, Johan Smith (afrigter), Mari van Biljon, Rika Huyser en Corni Pretorius. Jolet Wessels (afwesig).
Liggies Hokkie wenners
Laerskool Lichtenburg se tweede-hokkiespan is wenners van die Kenneth Kaunda-liga wat al die Potchefstroom en Klerksdorpskole insluit. Dit is ‘n besondere prestasie vir ‘n plattelandse skool. Hulle is agter, van links: Clarissa Gagiano, Annemike Jacobs, Roe-Ané Herbst (afrigter), Luzanne Botha, Lia-Mari van der Berg, René Aspeling (afrigter), Judy du Toit, Limari Britt, Miandri Schroeder, Jessika Seymore en Olga Badenhorst. Voor is Lienke Steyn, Zianke Pretorius, Masego Suping, Inge Hesse en Nenienke de Beer.
Poolkompetisie en rugby
NOORDWESTER – LICHTENBURG - Ruan du Plooy, oud-Liggie, studeer tans aan NWU in Potchefstroom.
Verlede jaar het hy 16de geëindig en vanjaar kwalifiseer hy weer (o/23) vir die Suid-Afrikaanse poolkampioenskappe in die Kaap wat van 23 September tot 1 Oktober plaasvind. Die kostes is baie en om fondse of donasies te kry, bied hulle ‘n lekker poolkompetisie aan.
Bloumasjien stoomroller voort
Die Bloumasjien speel Saterdag in die halfeindstryd vir die Noordvaal-beker teen Die Anker. Die manne is nog onoorwonne op hulle tuisveld. Ons vra dat elke liewe Liggie, oud-Liggie en gemeenskaplid hulle sal ondersteun; Saterdag, 17 Augustus om 12:30 op die Fanus Booysen Sportterrein. Verlede week het die span twee wedstryde gespeel en gewen: Pietersburg 36-10 met Rea Motsusi as Man van die wedstryd en Ben Voster 20-13 met Oratile Sekoto as Man van die wedstryd. Die Liggies se o/14A rugbyspan speel ook in die halfeindstryd vir die Noordvaal-beker teen Wesvalia Saterdag, 17 Augustus om 08:30.