GEMSBOK-UPINGTON: Die burgemeester van Dawid Kruiper Munisipa-liteit, mnr. Michael Segede, het verlede week die sooispit van ‘n padinstandhoudingsprojek in Upington behartig.
Die projek dek ‘n stuk van 5 km langs sleutelpaaie, insluitend N14 Olifantshoek-pad, N14 Lemoendraai, Dakotaweg, Paballelo Industria-weg, Dr. Nelson Mandelarylaan, Cornelius Jansenstraat, Leeukopstraat en Trekstraat.
Die projek sluit die volgende in:
• Dreineringsverbeterings • Herseël (cape-mis, enkelseëls, missproei)
• Slaggat en skouer herstelwerk
• Kraakverseëling • Rekonstruksie van grondlae (basisrekonstruksie en kraakseëls)
BVi is die projekkonsultant, en Amandla Construction is die kontrakteur.
Die projek, wat deur MIG gefinansier word, bewillig R16,7 miljoen vir die 2024/25-boekjaar.
Dit sal werk verskaf aan 10 gemeenskapslede van 8 Julie tot 13 Desember 2024.
Ouma Bonnie slaan haar 100-tal
GEMSBOK-UPINGTON: HILDA KATHLEEN, oftewel ouma Bonnie het Saterdag, 6 Julie, 100 jaar oud geword-'n mylpaal wat vir baie van ons seker nie beskore sal wees nie.
Sy is blind en haar gehoor is sowat 2%, maar die "queen mother" is sommer nog baie gesond en vlymskerp met die mond. Die "Groot Vergeet" het haar nog nie ingesluk nie.
Sy kan vir jou nog vertel van haar kinderjare daar doer in die ou Kalahari. Ouma Bonnie is op 6 Julie 1924 in 'n kliphuis op Boksputs in Botswana gebore en is die derde oudste kind van vier van John Sydney en Sophie Martin. Sy is die enigste oorlewende van die Martin-gesin. Kort ná haar huwelik op 19-jarige ouderdom met die kunstenaar en onderwyser Gert Ananias Pretorius het hulle na Upington verhuis waar haar man by 'n laerskool skoolgehou het.
ZFM neem afskeid van Godfrey Kuun
GEMSBOK-UPINGTON: Na 41 jaar van lojale en toegewyde staatsdiens, het Godfrey Kuun, hoof van die ZFM omgewings-gesondheid afdeling, verlede week die tuig amptelik neergelê.
Hy het tydens ‘n raadsvergadering, van die geleentheid gebruik gemaak om die raad en personeel van die ZFM Distriksmunisipaliteit vaarwel te roep.
Godfrey het sy Nasionale Diploma in Omgewingsgesondheid aan die Kaapse Technikon verwerf.
Godfrey het in sy leeftyd gewerk vir onder andere ZF Mgcawu Distriksmunisipaliteit, Dawid Kruiper Munisipaliteit, Robertson Munisipaliteit en Worcester Munisipaliteit - om maar enkeles te noem.
Rotariërs kry nuwe president
GEMSBOK-UPINGTON: Janie Louw is verlede week as die Upington Rotariërs se nuwe president ingehuldig.
Hul jaarlikse presidentsinhuldiging het plaasgevind op 27 Junie 2024 wat by Du Café gehou is met wonderlike kos, goeie vriendskappe en die deel van hoop wat die Rotariërs bring.
Die swierige aand is bygewoon deur lede van die Lions-klub, metgeselle, mede-Rotariërs en die eregaste, wat die uitgaande en inkomende presidente ingesluit het.
Die uitgaande president, Rotariër Deon van Zyl, het deur die loop van die aand gefokus op die wonderlike projekte wat die Rotariërs elke jaar aanpak, die families en minder bevoorregte mense van die gemeenskap wat daardeur positief geïmpakteer word en hoe die lede help om ‘n wêreld van hoop te vestig.
SANRAL projekte skep werk
GEMSBOK-KURUMAN: Twee nuwe Roetine Pad Instandhouding (RRM) kontrakte in die John Taolo Gaetsewe (JTG) Distrik van die Noord-Kaap - sal talle geleenthede skep vir subkontraktering en plaaslike arbeid oor ‘n tydperk van vyf jaar, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap SOC Beperk (SANRAL) aangekondig.
SANRAL evalueer tans tenders wat vir hierdie kontrakte ontvang is en hoop om later vanjaar kontrakteurs aan te stel.
Oud-burgemeester en speaker oorlede
GEMSBOK-AUGRABIES: ‘n Voormalige burgemeester en speaker in die ZFM distrik, Gina Cloete, is op 23 Junie na ‘n kort siekbed oorlede.
Gina Cloete, beter bekend as “Auntie G” is op Matjieskloof in die Springbok-distrik gebore. Sy is die oudste van vyf kinders van wyle Gert en Anna Cloete. Sy was ten tye van haar afsterwe werksaam as LED-beampte in die Kai !Garib Munisipaliteit.
“Auntie G” het na voltooiing van haar matriek, verskeie loopbane gevolg. Sy was onder meer ‘n tegnikus vir ‘n Tedelex-fabriek in Atlantis. Sy het later onderwys gegee in Doornbaai, Vredendal en Bergsig in Springbok.
Jeugdag gevier
GEMSBOK-KEIMOES: Die Noord-Kaap Beweging van Jesus Christus Interkerklik, het ‘n baie suksesvolle jeugdag in Keimoes gehou.
Daar was ‘n vol program van dans, sing, prediksie, motivering en digkuns. Die jeug het die middagprogram baie geniet en baie mense uit die gemeenskap het die middagprogram bygewoon.
Die koördineerder, Ilse Kotze het die volgende geskryf:
“Ons jeugdag was ‘n reuse sukses. Ons jongelinge het dit vreeslik geniet.
Ons samesyn was treffend. Die medemenslikheid en vrolikheid was die hele saal vol.
Ons jongmense was puik in hul optredes. Baie het die gehoor se harte gesteel.
Gesin kry nuwe huis na brand
GEMSBOK-UPINGTON: ‘n Jong vroutjie van Dakotaweg kon onlangs nie haar oë glo toe ‘n splinternuwe sinkhuis opdaag, waar hulle eie sinkhuisie die vorige nag nog gestaan het nie.
Die sinkhuise waarin Claudine en haar vyf kindertjies gewoon het, het die nag te vore tot op die grond afgebrand.
Gelukkig was niemand van hulle tuis nie, maar die gesin het alles verloor.
Nadat haar buur-vrou, Nonceba Bekeer, namens Claudine op sosiale media om hulp gevra het, het Lion Neville Bosman en die res van die span ingespring en ‘n reeds vervaardigde sinkhuis by Landbou Staal op Upington aangekoop en laat aflewer. Hellas Kalahari het dit aan die behoeftige gesin afgelewer.
KOMK vier saam internasionale Volkswagen Kewerdag
GEMSBOK-KANONEILAND: Lede van die Kalahari Oumotorklub (KOMK) en hul gesinne het op 22 Junie 2024 met hulle Volkswagen Kewers die internasionale Volkswagen Kewerdag saam gevier met ‘n rit na die Kanoniki padstal by Kanoneiland waar daar lekker saam gekuier is.
‘n Kort geskiedenis van die VW Kewer of algemeen bekend as die “Beetle” is dat gedurende Mei 1934 het Adolf Hitler, die destydse leier van Nazi Duitsland, tydens ‘n vergadering in Berlyn se Kaiserhof Hotel daarop aangedring dat ‘n goedkoop passasiersmotor vir die volk ontwikkel moet word wat twee volwassenes en drie kinders moet kan vervoer, lugverkoel moet wees met lae loopkoste en lae brandstofverbruik.
RPO NK se vise-voorsitter gekies
GEMSBOK-KENHARDT: Mnr. Charl Saunderson is tydens die onlangse RPO-kongres genomineer as vise-voorsitter van die RPO Noord-Kaap.
Charl is op die dagbestuur van ORLU (Oranjerivier Landbou Unie) en was na die kongres afgevaardig.
Mnr. Saunderson het nie veel bekendstelling nodig nie. Hy boer al sedert 2004, waar hy ‘n vierde generasie boerdery op Nooitgedacht in die Kenhardt-omgewing, bedryf, naamlik Nooitgedacht Dorperstoet. Charl was eers ‘n finansiële adviseur op Upington (Charl Saunderson Finansiële Adviseurs) en het gedurende 2014 voltyds gaan boer.
Upington Kanker Ondersteuners kuier by DHS-hospitaal
GEMSBOK-UPINGTON: Na ‘n diagnose van kanker kan jy ‘n reeks gevoelens hê, insluitend vrees, hartseer, angs en depressie.
Dit is normale reaksies op ‘n stresvolle lewenservaring. Die mense in jou lewe kan ook bekommerd, kwaad of bang voel.
Familielede kan baie ondersteunend wees, of hulle kan anders teenoor jou begin optree.
Sommige voel dalk skuldig dat hulle nie siek is nie, of hulle kan hulpeloos voel, omdat hulle nie weet hoe om jou te help nie.
Nadat die plaaslike Kansa kantoor sy deure op Upington gesluit het, het ‘n klomp Kanker-oorwinnaars en mense wie geliefdes aan die stryd met kanker moes bystaan en selfs afstaan, ‘n kankerondersteuners groep op Upington begin.
Die groep het die afgelope week ‘n baie interessante inligtingsessie by die Dr Harry Surtie Hospitaal se onkologie afdeling bygewoon.
Die personeel van die geallieerde gesondheid afdeling het die groep toegespreek.
Enige persone wie betrokke wil raak of die behoefte tot kanker ondersteuning het, kan met HelenaTitus, via Whatsapp kontak maak.
Haar nommer is 078 371 3225.
Kruis van hoop toorn nou oor Kakamas tuin
Die Kakamas Belangegroep, in samewerking met Youth With A Mission (YWAM) het nog pragtige plante by Kakamas se ‘Ons Tuin’ aangebring. Gemeenskapslede en rolspelers het saam met die Christelike jeuggroep, YWAM, n kruis in die tuin opgerig en in gebed vir hoop en vrede vir die gemeenskap gevra.
Kakamiete moes die afgelope paar jaar baie klippe versit om ‘n vullishoop by die ingang van die dorp, in ‘n spog-rotstuin te omskep. Kakamas spog vandag met ‘n waterslim pragtige roos-kwarts, roois-jaspis, doloriet rotstuin en selfs ‘n miniatuur replika van die dorp se historiese waterwiel.