GEMSBOK-BRANDVLEI: Dit is winter, dit is jagtyd maar in die Noord-Kaap is dit ook kuiertyd vir familie en vriende. Brandvlei Landbouvereniging se unieke Jagnaweek het hierdie jaar plaasgevind op 14 en 15 Junie.
Hierdie Jagnaweek, met sy ontstaan as ’n bymekaarkom vir vriende en familie, het oor die jare veran-der in ’n volwaardige fondsinsamelingsge-leentheid vir die gemeenskap – Brandvlei se eie fees! Ons behou egter ten alle koste die saamkuier van vriende en familie komponent en vanjaar was weer geen uitsondering nie.
Verrigtinge het Vrydag 14 Junie, ’n lieflike warm wintersdag, afgeskop met die jag van springbokke op verskillende plase. Sodoende kon daar Saterdag weer lekker jagstories uitgeruil word. Die beste bokke is Saterdagmiddag by die Kerksaal ingeskryf. Hierdie jaar was daar pryse vir die beste ooi- en die beste ram bok. Alwyn Muller van Loeriesfontein het die beste ram bok en Annuscha van der Merwe van Gansbaai die beste ooi bok ingeskryf.
Upington ATKV-takke by Buffelspoort vereer
Tydens die ATKV Kultuurkuier by Buffelspoort onlangs, het Upington se takke weer eens met toekennings weggestap. daar was meer as 300 lede teenwoordig van regoor die land en Namibië. Die Noord-Kaap streek is ook goed verteenwoordig by die kongres met takke van Hoërskool Duineveld, Springbok, Port Nolloth, Groblershoop, Askham en Friërsdale.
Anschen van Blerk, voorsitter van die Rooiduin-tak en Liesel Giliomee van Kultuurdiere-tak (Hoërskool Upington) het albei toekennings ontvang.
Anschen van Blerk, voorsitter van die Rooiduin-tak, ontvang ‘n toekenning vir die Beertjieprojek 2023 wat hulle in samewerking doen met Saret Boshoff. ‘n Groot woord van dank aan Liewe Heksie Speelskool vir hul GROOT bydrae aan hierdie projek. Hierdie projek is nog steeds aan die gang en indien iemand belang stel om betrokke te raak, kan hul gerus met ons skakel. Indien enige iemand oorskiet wol of breipenne wil skenk, kan u ook met ons skakel op WhatsApp nr 082 430 9498.
Me Liesel Giliomee van Kultuurdiere-tak (Hoërskool Upington) het die toekenning ontvang vir die tak met ‘n baie hoë vlak van funksionaliteit in 2023.
Beauty for Ashes GBV-bewusmakingsveldtog
GEMSBOK-UPINGTON: Die CRC Kerk het vanjaar die Beauty for Ashes GBV-bewusmakingsveldtog nasionaal van stapel gestuur - met die doel om bewusmaking, kennis, hoop en genesing aan vroue en kinders in ons gemeenskappe te bring.
As deel van hierdie projek het hulle onderneem om verskeie Slagoffervriendelike Kamers by Polisiestasies regoor die land op te knap en te verbeter.
Met die afsluiting van Nelson Mandela-maand en die aanbreek van vrouemaand, kon hierdie projek nie op ‘n beter tyd van stapel gestuur word nie.
Augrabies Waterval vier Mandelamaand op Lutzburg
Augrabies Waterval Nasionale Park het verlede week Mandelamaand saam met bejaardes en persone met gestremdhede van Lutzburg by Kakamas, gevier.
Christine du Plessis SET (Social Economic Transformation) bestuurder, wat die program saamgestel het, by raadslid Aaron Johnson van Kai !Garib, Genevieve Maasdorp, streeks kommunikasie bestuurder van die Ariëde Parke en Angela Isaks, parkhoof van die Augrabies Waterval Nasionale Park het almal 'n rol gespeel om van die dag 'n groot sukses te maak.
‘n Groot groep bejaardes het die Mandeladag vieringe by Lutzburg se gemeen-skapsaal bygewoon. Die parkhoof van die Augrabies Waterval Nasionale Park, Angela Isaks, het ‘n paar geskenke aan bejaardes oorhandig. Die BSP (Biodiversity Social Project)-span het pragtige liedere gesing. Die veldwagters van Augrabies Waterval Nasionale Park het ‘n demonstrasie dril gedoen waarna Mario Steenkamp die gehoor
ingelig het oor die doel van veldwagters. Die gaste het ook pragtig saamgesing en meegedoen aan die program wat aangebied is.
Die oggend is afgesluit met heerlike sop en roosterkoek wat deur die BSP-span uitgedeel is.
Kakamas personeel neem deel aan Mandeladag
GEMSBOK-KAKAMAS: Kakamas personeel het weer vanjaar Mandeladag ondersteun.
Die personeel het geld bymekaar gemaak om sop vir die pasiënte te maak en dit uit te deel. Daar is ‘n kort toespraak gehou om pasiënte in te lig oor die doel van die dag. Daarna het die pasiënte ʼn lekker koppie warm sop ontvang. Die glimlagte van dankbaarheid het elke personeellid se harte warm gemaak.
Daarna is daar ook komberse aan pasiënte uitgedeel wat op daardie stadium in Kakamas Hospitaal gelê het. In hierdie koue winter tyd waarin ons gemeenskap hulself be-vind, het elke kombers weer vir die pasiënte moed gegee om by hulle huis weer die koue aan te durf. Elkeen was baie dankbaar oor hierdie groot geskenk.
Die aanvullende gesondheidspan het na Kokerboom Oord gegaan. Vir opwarming moes almal, terwyl hulle sit, die instruksies volg van die liedjie “head, shoulders, knees and toes”. Toe is daar aktiwiteite in groepe aangebied waaraan die bejaardes deelgeneem het.
SAPD en SANW ploeg terug op Mandeladag
GEMSBOK-KLEINZEE: Die Operasie Vala Umgodi multidissiplinêre span in die Noord-Kaap het Mandeladag gevier met ‘n verbintenis om armoede en ongelykheid te bekamp.
Onder die tema “Dis nog in ons hande” het lede van die SAPD en die SANW saamgekom vir ‘n dag van gemeenskapsdiens.
Lede van die SA Polisiediens (SAPD) en SA Nasionale Weermag (SANW) wat bestaan uit die span wat gekies is om die dag by die Kleinzee Skool vir Kinders met Spesiale Behoeftes en die Kleinzee Crèche te vier.
Die span in Kleinzee, onder leiding van luitenant-kolonel Gert Nel (SAPD) en luitenant Maddock (SANW), het ook ‘n beduidende impak op die plaaslike gemeenskap gemaak.
LUR belowe toegang tot hulpbronne, befondsing vir NK-boere
GEMSBOK-UPINGTON: Mase Manopole is terug as LUR vir Landbou in die Noord-Kaap.
Hierdie keer beplan sy om te fokus op klimaatsveerkragtigheid, vroue- en jeugbemagtiging, en die verbetering van toegang tot hulpbronne vir boere.
Mase Manopole is onlangs heraangestel as die LUR vir die Noord-Kaap se departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming. Manopole het haar toewyding verseker om ‘n tasbare verskil in boere se lewens in die provinsie te maak. Manopole het gesê sy beplan dat die Noord-Kaap sal lei in werkskepping en landbou-uitnemendheid soos voorheen.
Sy het die belangrikheid van samewerking met belanghebbendes in die sektor beklemtoon.
“Ons planne behels die voldoening aan die uiteenlopende behoeftes van beide klein- en grootskaalse boere, aangesien dit noodsaaklik is vir volhoubare groei van ons landbousektor.
Amper Mahala Winkel - Hier kry jy van God se liefde saam met jou inkopies
GEMSBOK-UPINGTON: By die NG Kerk Oos se Amper Mahala Winkel, doen jy nie net inkopies, vir “amper mahala” nie, jy beleef ook God se liefde daar.
Verlede jaar, gedurende Mei/Junie, het die kerk se koster, Delene Moller, met die winkel begin. Sy was voorheen by die NG Kerk Keimoes en daar is so ‘n winkel, toe het sy gedink dit kan hier op Upington ook goed werk.
Delene sê van die begin af het sy baie goeie ondersteuning gekry. “Ons is werklik geseënd,” het sy gesê. “Mense van oral het betrokke geraak. Vriende, kennis en gemeentelede het mildelik bygedra. Hier is kamers vol klere - vir mans, dames en kinders, ook snuisterye en linne.”
Dr Hennie Pistorius, leraar by die gemeente, sê die winkel is gefokus op die invordering van kwaliteit tweedehandse produkte, klere en ander toebehore. Die herverkoop van dié produkte word beskikbaar gestel teen uitstekende pryse tot lidmate en die breër gemeenskap.
Zfm deel van provinsiale gemeenskap Imbizo
GEMSBOK-KAKAMAS: Die ZF Mgcawu-distrik het die provinsiale gemeenskap imbizo namens die provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Koliswa Otola, in Kakamas by die Laerskool Kakamas aangebied.
Die adjunk-provinsiale kommissaris vir polisiëring, genl. maj. Luntu Ngubelanga, vergesel deur die gasheer, die waarnemende distrikskommissaris van die ZFM-distrik, brig Monica Sebile, provinsiale hoofde, stasiebevelvoerders en die distriksgemeenskap GPF-voorsitter, mnr Clement Baai en die hoofde van staatsdepartemente en -entiteite, het die geleentheid bygewoon.
Ysreën en sneeu laat hele Noord-Kaap bibber
GEMSBOK-UPINGTON: Terwyl bibberweer die kwik die afgelope week erg laat daal het, het swaar reën gelei tot oorstromings in sommige dele van die Noord-Kaap, insluitend die Hantam, Kamiesberg en Middelpos.
Sommige inwoners rondom Hantam het ernstige skade aan hul eiendomme opgedoen en is na tydelike ver-blyf by Lenie Skippers-gemeenskapsaal verskuif.
Sterk winde het ook skade aan telekommunikasie-infrastruktuur veroorsaak wat sommige plekke sonder selfoondekking gelaat het.
Woordvoerder van die departement van samewerkende regering, Babalwa Mzambo, sê: “ Kamiesberg het oorstroomde paaie en ontwrigte telekommunikasiedienste ervaar, terwyl sommige gesinne in Hantam aansienlike eiendomsbeskadiging in die gesig gestaar het, hul is hervestig na die Lenie Skippers-gemeenskapsaal. In Middelpos het kragonderbrekings voorgekom en ongeveer 15 informele huishoudings in Calvinia het skade opgedoen.”
“Buffelsrivier in Nama-Khoi het oorstroomde paaie ervaar, wat gemeenskapslede en padgebruikers aangespoor het om versigtig en waaksaam op die paaie te wees. Gesinne wat geraak is, het tydelike skuiling en voorsiening ontvang, met deurlopende assesserings wat deur die provinsiale rampbe-stuurskomitee gedoen word om verdere hulp te verleen soos benodig,” voeg Mzambo by.
AfriForum-tak sal nou self openbare toilette in Upington opknap
GEMSBOK-UPINGTON: Ná talle pogings om die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit te kry om instandhou-dingswerk aan die openbare toilette in Upington te doen het die AfriForum-tak besluit om nou self op te tree.
Die toilette is in die midde-dorp geleë en is ver-onderstel om toeganklik te wees vir die publiek, maar dit is in só haglike toestand dat g’n mens dit kan gebruik nie.
Hoewel daar drie vroue is wat hul bes doen om die toilette skoon te hou is daar dringende herstelwerk wat gedoen moet word.
Die watertenks agter die toilette is heeltemal gebreek; waterpype hang op die grond en water loop op die vloer uit. Voorts is daar geen stopkrane nie en die deure is ook lankal deur vandale afgebreek.
Bekende leier en sakeman oorlede
GEMSBOK-KAAPSTAD: Mnr. Chris Bester, oud onder-burgemeester, gemeenskapsleier en Upington sakeman in die tagtigerjare, is op 28 Junie op die ouderdom van 83 jaar, in die Strand oorlede.
Mnr. Bester, sy vrou Beattie en hul gesin, het diep spore in die dorp agtergelaat. Hulle het in die laat 80’s na Springbok verhuis, waar hy die Spar winkel gekoop het. Later was hy ook die eienaar van die Port Nolloth Spar en Saldana Spar. Op 60 jaar het hy afgetree en in Langebaan gaan bly. Later het hulle in die Strand gaan woon.
Mnr. Bester se seun, Johan, het die Gemsbok Vrydag besoek en ‘n leêr vol Gemsbok uitknipsels vir ons gebring met verskeie berigte van 1976 tot 1985.
Wat ‘n vol lewe het wyle Chris Bester nie gehad nie. Hy het nie net in sy loopbaan uitgeblink nie, maar was ook baie betrokke as stadsraadslid, asook landbou-organisasies en sportklubs.
Mnr. Bester is op 9 Maart 1940 in Stellenbosch gebore en het ook daar skoolgegaan. Reeds van kleintyd was hy aangetrokke tot die sakewêreld en in 1966 het hy in Upington aangekom as bestuurder van die destydse Woolworths.
Toe dié winkel toegemaak het, het hy in 1982 die hoofbestuurder van die destydse Knowles geword.