GEMSBOK-UPINGTON: Die kaalvoetklong van die Kalahari, Jaco Liebenberg, deel sedert 20 April vanjaar sy “filmpies” op Facebook, onder Jaco Ka-laari.
Hier gesels hy elke dag oor sy doen en late. Die afgelope tyd kon sy volgers jagtyd saam met hom en jagters wat al jare in die Kalahari kom jag, meemaak.
Wat Jaco se geselsies so interessant maak, is dat dit altyd voor die kospotte gedoen word. Hy is van kleins af baie lief vir kosmaak en het altyd sy broodbak en kosfoto’s op Facebook gesit. Toe dink hy, hy gaan kort video’s maak en dit met sy vriende deel. Die “filmpies” het so gewild geword, dat dit hom nou baie besig hou.
Jaco is ‘n avonturier in murg en been. Hy hou baie daarvan om rond te reis, veral na onbekende plekke en dit dan met sy vriende te deel.
Oasis Vaardigheidsentrum spog op Mandeladag
GEMSBOK-UPINGTON: Op Mandeladag het Oasis Vaardigheidsentrum besoek ontvang van Land Bank en het gespog met hul verskillende betonblokke en gevestigde groentetuin.
Oasis het ook saam met Land Bank en Lesakatech warmte en waardigheid na 12 sopkombuise regoor Karos, Keimoes en Upington gebring. Saam het hierdie kombuise byna 2000 gemeenskapslede bedien.
DKM sê bome snoei is onwettig
GEMSBOK-UPINGTON: Die Dawid Kruiper Munisipaliteit het ‘n dringende persverklaring uitgereik, waarin hy sê dat hy opgemerk het dat lede van die gemeenskap bome in die dorp “en sommige kritieke gebiede sonder die toestemming van die munisipaliteit kap”.
In die persverklaring sê DKM die afkap van bome in ‘n munisipale gebied, sonder toestemming, is onwettig en kan tot aansienlike strawwe lei. Munisipale verordeninge verbied die onwettige kap van bome.
Bekende sakeman oorlede
GEMSBOK-UPINGTON: “My broer was sonder twyfel ‘n entrepreneur by uitnemendheid. Hy het hom veral onderskei as kleinsake en sosiale entrepreneur. Hy het groot hoogtes bereik as algemene handelaar in die produksie en bemarkingsbedryf”, het Billy Jonker in ‘n huldeblyk vir sy broer, Randy, gesê.
Randolph Samuel Jonker, beter bekend as Randy, is op 6 Julie aan natuurlike oorsake by sy huis in Patrickstraat omstreeks 06:00 die oggend oorlede.
Hy was ‘n welbekende in Upington en omgewing en sal altyd onthou word vir sy handelsnaam “Uncle Randy’s”.
APD spog met ‘n nuwe bussie
APD Benede-Oranje het na baie jare se aansoeke, hierdie jaar eindelik fondse ontvang vanaf NLC, om ‘n nuwe bussie aan te koop, vir die vervoer van ons persone met gestremdhede, na en van hul wonings, na ons werkswinkel, waar hul daagliks nuwe vaardighede aanleer. Die Iveco Daily is omgebou met ‘n huyser om ons rolstoelgebruikers gemaklik in en uit te laai. Op die foto staan die dankbare personeel en lede van die Etsikelelo Werkswinkel, voor hul nuwe bus.
Namakwaland spog weer in sy sprokiesagtige blomjas!
Die langverwagte jaarlikse blomvertoning het middel Julie vanjaar amptelik begin en bied besoekers ‘n vroeë kykie na die lewendige blomskouspel wat voorlê. Danksy vroeë reën en konstant koel temperature begin die landskap met kleur ontwaak, wat die begin van ‘n belowende blomseisoen aandui.
Onlangse weerpatrone – gekenmerk deur koue periodes, afwisselende sonskyn en opvolgbuie – het ideale toestande geskep vir dormante sade om te ontkiem.
Meester Jimmy onlangs oorlede
UPINGTON: "My pa was 'n stapper. Hy't gehou van die buitelug en was 'n avontuurlustige mens. Hy het baie geoefen, homself fiks en gesond gehou, sy vrugte en groente geëet en het die lewe voluit geleef. Ons familie was vir hom baie belangrik en hy het gesorg dat daardie band behoue bly".
Só het Shaun (41) die enigste seun van James Edward Allies met trots aan ons meegedeel. ' n Talentvolle, rustige man, veral bekend om sy talle staproetes en avonture. Jimmy, soos familie, vriende en die gemeenskap hom geken het, is op 1 Julie kort ná 'n fratsongeluk, naby sy huis, in die mediese sorgsentrum, aan 'n ernstige kopbesering oorlede.
Lauren druk haar stempel af in New York
Lauren Cloete, ‘n leerder van Hoërskool Martin Oosthuizen het tydens die Junie vakansie die Dawrette Heyns Modelskool in New York, Amerika gaan verteenwoordig.
Met haar prestasies het sy gekwalifiseer om in 2026 aan die New York Fashion week te gaan deelneem.
Sy is ook deur die Wilhelmina Modelling Agency en New York film academy raakgesien en was die “Model of the Year.”
Sy praat die wêreld aan die brand
GEMSBOK-UPINGTON: In ’n gemeenskap waar hoop soms skaars is en drome maklik verlep, het een vrou opgestaan – nie met rykdom of roem nie, maar met ’n foon, ’n kamera, en ’n stem wat al hoe harder begin praat het.
Sy is Gabby Grootdrink, ook bekend as die ikoniese Miss Loo, ’n vrou wie se lewensverhaal tussen Louisvaleweg, Rosedale en De Eiland gevleg is – en vandag weerklink haar woorde oor die hele Noord-Kaap én verder.
Sy het grootgeword in die skema, in ’n huis waar daar min was – maar waar haar gees en karakter gevorm is. Haar skooldae by SC Kearns Skool in Upington was die begin van ‘n lewenspad vol struikelblokke, maar ook groei.
Ná skool het sy by haar “antie” in Upington kom bly. In 2012 het sy ’n huis vir haarself gekry – Leeukopstraat 13400, Rosedale – wat sy nie net haar huis noem nie, maar ook haar “plek van visioen”.
Kalahari leeus nou in Addo
GEMSBOK-ADDO: Twee mannetjieleeus, voorheen van die Twee Revieren-gedeelte van die Kgalagadi Nasionale Park, noem nou die Addo Olifant Nasionale Park (AENP) in die Oos-Kaap, hul tuiste.
Só berig JP Louw,woordvoerder van SANParke.
Dié twee, wat na raming ongeveer sewe jaar oud is, het ‘n paar weke in 'n boma in AENP aan hul nuwe toestande gewoond geraak. Hulle is vroeër die maand vrygelaat en aanduidings is dat hulle goed in die landskap aanpas.
Hul aankoms volg kort op die bekendstelling van twee leeuwyfies in die park aan die begin van Maart. Die twee-en-'n-half jaar oue susters is van die !Khamab Kalahari-reservaat aan die suidoostelike rand van die Kalahari ingebring.
Namakwa begin al blom
GEMSBOK-SPRINGBOK: Namakwa Nasionale Park het sedert Maart 2025 goeie reënval ervaar, met gereelde opvolgbuie en koue weer afgewissel met sonnige periodes.
Hierdie ideale toestande het ‘n perfekte omgewing geskep vir vroeë ontkieming, veral onder die madeliefiespesies.
Warmer periodes gedurende die laat herfs en vroeë winter het lente-agtige toestande nageboots, wat vroeër as gewoonlik blom aanmoedig.
Tans het die blomme oor die park begin blom, alhoewel dit in sekere gebiede kol-kol is, dui dit net daarop dat die seisoen nog in sy baie vroeë stadiums is.
NK Woestyn-koningin tuur oor Tankwa Karoo
GEMSBOK-UPINGTON: “Die Koningin van die Woestyn” is ontwerp deur Gift, ‘n bekende ontwerper van Paballelo Upington. Hierdie pragtige stuk is ‘n huldeblyk aan die kulturele erfenis en skoonheid van die Noord-Kaap.
KgosiKgadi is in opdrag van AfrikaBurn, die Afrika-tak van die internasionale fees, Burning Man, gemaak.
Gift en sy span het hierdie stuk op die AfrikaBurn terrein by Quaggafontein, in die Tankwa Karoo in die Wes-Kaap, gebou. Die hoogste rok wat nog ooit gebou is.








