GEMSBOK-KAKAMAS: Kagiso Dounalde Motlele van die plaas Dassierant; Chargo Trust, was die algehele wenner in die Agri Presteerder 2025 kompetisie.
Al die deelnemers van die kompetisie is by Lake Grappa onthaal waar sertifikate en kategoriewenners aangewys is.
Sedert 2010 het die Oranjerivier Produsente Alliansie (ORPA) die eerste kompetisie in die Benede Oranjerivier-streek gehou.
Orffer & van der Merwe Human Resource Practitioners het weer die kompetisie behartig saam met ‘n span beoordelaars. Die prysuitdeling, bygewoon deur die verskillende plase se landbouwerkers, bestuurders en eienaars, asook die hoofborge van Sanlam.
Beoordelaarspaneel het bestaan uit Marius Orffer en Christa Silver van Orffer & van der Merwe, dr. Andries Daniels van die Vine Academy and Model Farm en Elsa Jones van die Gemsbok koerant. Lovey Masowa was weer die tolk wat dit moontlik maak dat almal mekaar verstaan.
Voor die sertifikate uitgedeel is, het dr. Andries Daniels, akademiese en opleidingsbestuurder by die Akademie, al die deelnemers geluk gewens en gesê hoe hy, en al die beoordelaars, so baie by die deelnemers leer.
Hy het toe voortgegaan om te sê dat hy by die Vine Academy en Model Farm werk waar die missie Learn Empower Grow is, waarvan die akroniem LEG is, wat so diepgaande is, want in die landboubedryf het jy as boer, werker, produsent ‘n sterk paar bene nodig, nie net om deur jou wingerde en boorde in die reën en hitte te loop nie, maar ook wanneer die ongunstige omstandighede ontstaan.
“Wanneer die storms kom, sal jy stewig op die grond kan staan met daardie sterk paar bene en nie val nie, maar om die storm te weerstaan en weer te begin loop en bou wanneer dit verby is.
“Hy noem dat, as die akademiese en opleidingsbestuurder by die Akademie, sy taak is om toe te sien dat die opleiding vlot verloop. Dat die deelnemers leer en verstaan waaroor die opleiding gaan. Alhoewel hy die deelnemers deur die assesserings vir die Trekkerbestuurder- en Onderhoudsopleiding geneem het, het hy steeds nie geweet hoe om self ‘n trekker te bestuur nie, tot die onderhoud met een van die trekkerbestuurders vir die kompetisie, wat dit so goed en in soveel detail verduidelik het dat hy gevoel het hy kon nou ook ‘n trekker bestuur.
“En dit het vir hom net die liefde en passie beklemtoon wat die kandidate wat vir die kompetisie ondervra is, vir hul werk en die landboubedryf het. Hoe goed hulle dit verstaan en bewus is van die holistiese prentjie. Hulle weet dat die bedryf sy volhoubaarheid moet handhaaf, want, soos hy altyd vir sy studente sê, is die landboubedryf die enigste bedryf wat jy ten minste drie keer per dag nodig het, vir ontbyt, middagete en aandete, want ons almal moet iets eet en drink, en sonder die landboubedryf sou daar niks wees om te eet en te drink nie.”
Daarna is die sertifikate deur Johan van der Merwe en Gabriel Viljoen (voorsitter van ORPA) uitgedeel.
Kakamas verloor ‘n besondere mens
GEMSBOK-KAKAMAS: ‘n Baie be-kende persoon in die Kakamas-omgewing, mnr. Vlok Hanekom, is onlangs oorlede. Toe berigte van sy dood op sosiale media begin verskyn, kon ‘n mens dadelik agterkom dat hierdie man groot agting in sy gemeenskap geniet het en op talle mense se lewe ‘n groot impak gemaak het.
Hy was ‘n eggenoot, ‘n pa, ‘n broer, ‘n oupa, ‘n vriend, ‘n onderwyser, ‘n mentor - hy het vir soveel mense iets beteken.
Oom Vlok Hanekom het as jong onderwyser op Kakamas begin skoolhou.
Slegs 16 verkeersbeamptes sedert 2008 in NK aangestel
GEMSBOK-UPINGTON: Die provinsiale verkeersdepartement word daarvan beskuldig dat hy voortdurend misluk om die “onderbekwame verkeersdiens” in die provinsie te versterk, met die permanente aanstelling van slegs 16 uit ‘n geteikende 64 verkeersbeamptes.
Dit is die eerste inname van verkeersbeamptes sedert 2008. Tydens die onlangse begrotingskomiteevergadering het die departement weer die hoë mislukkingskoers van leerlinge blameer, soos vroeër vanjaar blootgelê is.
APD laat val die klem op Vrouemaand
GEMSBOK-UPINGTON: Die APD Benede Oranje het onlangs ‘n baie geslaagde Vrouedag by die Protea Inn Hotel aangebied, as hul viering van Vrouemaand.
Die tema was, “Kom ons vier haar onbeskryflike en uitmuntende krag.” Die dames wat die oggend bygewoon het was almal geklee in skakerings van pienk en het heerlik saamgekuier, geluister en deelgeneem aan die interessante program wat aangebied is.
Die spesiale geleentheid is gereël om dames met gestremdhede, mamas met kinders met gestremdhede en versorgers van persone met gestremdhede te vier. Dit was ‘n geleenheid waar hulle net kon inskakel by ander dames en die dag ontspan en geniet.
Agri NK se Jongboer van die Jaar
Stephan Becker, ‘n boer van die Upington-omgewing, is verlede week tydens die Agri Noord-Kaapkongres as die 2025 Noord-Kaap Jongboer van die Jaar aangewys.
As Noord-Kaap Jongboer is hy nou een van die fina- liste om aan Agri SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie deel te neem. Al nege provinsies se wen-boere ding hier teen mekaar mee om as algehele wenner aangewys te word.
Stephan is lid van die Koupan Landbouvereniging in die ORLU-streek. Die president van die Oranjerivier Landbou Unie, mnr. Wilco Fourie, sê hulle is baie trots op Stephan wat met sy baie insiggewende voorlegging die kompetisie aangepak het. Met sy herlewingsboerdery styl, probeer hy dinge reg doen. Die Noord-Kaap met sy geharde toestande het sy unieke uitdagings en daarom is ons trots daarop dat hy as wenner uit die Oranjeri-vierstreek aangewys is.
Kleurvolle blommeprag lok talle toeriste
GEMSBOK-KAMMIESKROON: Die blomseisoen kry geleidelik momentum in die Skilpad-gebied, waar die velde tans bedek is met helder oranje en geel blomme.
Hierdie kleurvolle blommeprag lok reeds besoekers en plaaslike inwoners wat gretig is om die natuur se skou-spel te aanskou.
Die huidige sonnige weerstoestande is 'n groot hupstoot vir blomontwikkeling.
Die sonnige weer help die blomme om hul volle glorie te bereik, en dit is duidelik dat die hoogtepunt van die seisoen nie ver is nie.
Heropening van Ponton by Sendelingsdrift
Die Ponton (pont) wat by die Sendelingsdrift-grenspos, by |Ai-|Ais/Richtersveld Oorgrenspark, geleë is, sal vanaf 20 Augustus 2025 heropen word. Die pont is sedert 17 Maart 2025 gesluit weens die hoë water- vlakke in die Oranjerivier en die daaropvolgende vloede. Die water het uiteindelik doeltreffend gesak sodat bedrywighede na normaal kan terugkeer.
Die bedryfsure is soos volg: Maandag tot Sondae (insluitend openbare vakansiedae): 08:00 – 16:15.
Vir inligting oor tariewe vir verskillende voertuie, kan SANParke geskakel word - 054-338 0500.
Nuwe leeu-navorsingsprojek vir Kgalagadi Oorgrenspark
GEMSBOK-TWEERIVIEREN: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke), in vennootskap met die Endangered Wildlife Trust (EWT), is opgewonde om ‘n nuwe leeu-navorsingsprojek in die Kgalagadi-oorgrenspark aan te kondig.
Hierdie belangrike studie sal help om die leeubevolking in die park beter te verstaan, insluitend hoeveel leeus daar woon, waar en hoe hulle in die landskap beweeg.
Leeus speel ‘n belangrike rol in die handha- wing van ‘n gesonde ekosisteem. Om hulle behoorlik te bestuur, benodig ons akkurate inligting.
Geliefde juffrou onlangs oorlede
GEMSBOK-UPINGTON: : 'n Groot deel van Upington se gemeenskap het Saterdagoggend finaal afskeid geneem van een van sy geliefde oud-onderwyseresse.
Vera Shirley Daniels is ná 'n betreklik lang siekte in die privaat mediese sentrum hier oorlede. Sy was 78.
Vera is op 13 Junie 1947 in Carnavon gebore uit 'n gesin van 16 van wyle Hendrik "Toy" en Sarah Elizabeth Julius. Sy het haar bekwaam as 'n kindertuinonderwyseres aan die Battswood Kollege in Wynberg, Kaapstad.
In 1967 het haar skoolloopbaan by 'n laerskool in Lutzburg begin en vyf jaar daarna het sy by die Primêre Skool Oranje-Oewer 'n pos aanvaar. Hier het die jong dame skool gehou totdat sy die vrywillige skeidingspakket vir aftrede aanvaar het.
ZF Mgcawu-distrik herdenk Vrouemaand met Paballelo Hoërskool jeug
GEMSBOK-UPINGTON: As deel van die Vrouemaand-vieringe het vroulike beamptes van verskeie wetstoepassingsagentskappe op Dinsdag 5 Augustus 2025 met leerders by Paballelo Hoërskool gesels.
Die inisiatief is gelei deur die Provinsiale Hoof van Proaktiewe Polisiëring en ook die Kampioen van die Vrouenetwerk, brigadier Irene Kopeledi, ondersteun deur die Provinsiale Hoof vir Korporatiewe Kommunikasie en Skakeling, brigadier Mas-hay Gamieldien, die ZFM-distrikskantoor, sowel as die Paballelo-stasiebevelvoerder, luitenant-kolonel Johan Isaacs en SAPD-komponente in die groter Upington-gebied.
Beamptes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is vergesel deur verteenwoordigers van die Departement van Binnelandse Sake, Departement van Korrektiewe Diens- te, Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Provinsiale Verkeersdepartement, Metropolitaanse en AVBOB.
Die uitreik het gefokus op belangrike jeugontwikkelings- kwessies, insluitend die voorkoming van tienerswangerskappe, die ontmoediging van betrokkenheid by kriminele aktiwiteite en die bevordering van die belangrikheid van gereelde skoolbywoning.
Me. Matebogo Setlai van die Departement van Korrektiewe Dienste het ‘n oorsig gegee van die departement se funksies en aanhoudingprosesse, met die klem op rehabilitasie-inisiatiewe en loopbaangeleenthede binne die departement.
Die Provinsiale Sekretaris van die SAPD se Vrouenetwerk, sersant Venessa Sambo, en adjudant-offisier Mathews Mchlauli, die Kampioen vir Mans vir Verandering, het motiverende boodskappe gelewer wat gefokus was op vrouebemagtiging en die voorkoming van geslagsgebaseerde geweld.
Die program is afgesluit met ‘n musikale optrede deur die Paballelo Hoërskoolkoor, wat leerders geïnspireer en gemotiveerd gelaat het.
Waardigheidspakke is ook aan vroulike leerders by die skool oorhandig, wat deur die deelnemende departemente geskenk is.
As deel van die breër Vrouemaand-viering, sal soortgelyke inisiatiewe regdeur die provinsie gehou word om die belangrike rol van vroue in die samelewing te vier en daaroor te besin. , kolonel Cherelle Ehlers
NC Famous Lodges het nou hul eie huiswyne
NC Famous Lodges en die Red Ox Steakhouses het onlangs, saam met Namaqua Wines, ‘n reeks Red Ox-wyne bekend gestel, naamlik die Red Ox White, Red Ox Rose en Red Ox Red. Hierdie wyne is reeds by Namaqua Wines, asook by al die NC Foumous Lodges en die Red Ox Steakhouses beskikbaar.
Die idee vir ‘n huiswyn het van mnr Jean Lambrechts gekom, aldus Nicolaas Rust, groepsbestuurder: operasioneel van Namaqua Wines.
“Die huiswyne is ‘n eerste vir ons, maar beslis nie die laaste nie en is deel van ons suksesverhaal”, het Abé Colyn, voorsitter van Namaqua Wines se direksie gesê. NC Famous Lodges huur die Die Keldery se restaurant en lokaal sedert verlede jaar en die wyne was ‘n natuurlike uitvloeisel.
Stop 22 Padstal - ‘n Lugkasteel word toe ‘n veilige afdraai plek vir vele
Of jy nou op Upington, Kanoneiland of Keimoes bly - Stop22 Padstal is verseker die ideale plek om na weg te breek en jou baterye te laai - terwyl die kinders in die buitelug baljaar.
Die gedagte van Stop 22 Padstal kom al ‘n lang pad. Amper so lank soos die N14!
In 2012 het die eienaar Marelie Louw – toe nog Greyling - begin droom van ‘n lekker plekkie om mense en kinders te onthaal, in wat haar nuwe tuisdorp sou word.
Dinge het langer geneem as beplan en die Louw gesin het uiteindelik platteland toe getrek vanaf Pretoria in 2020, waar Willem Louw Jnr oorspronklik vandaan gekom het.








