GEMSBOK-UPINGTON: Terwyl die gemeenskap hier nog gesukkel het om hulself teen die skokgolwe van die wrede aanval op ‘n bejaarde paartjie te staaf, het lede van Upington Speurders en Sigbare Polisiëring, bygestaan deur kollegas van D-skof van die Snelwegpatrollie sowel as LCRC, onvermoeid gewerk om die aanvaller op te spoor en te arresteer.
Die 36-jarige verdagte, Guilliano Giovani Maasdorp, wat vermoedelik verantwoordelik was vir die aanval op die bejaarde paartjie gedurende die vroeë oggendure van 15 November 2025 in Oosterville, Upington, is in hegtenis geneem en het die res van die naweek in die selle by die Upington-stasie deurgebring.
Polisie onderskep miljoene rande se dwelms in emmer rys
GEMSBOK-GROBLERSHOOP: Die SAPD in die ZFM-distrik het dwelmhandelaars ‘n swaar slag toegedien toe ‘n 55-jarige man op Vrydag 14 November 2025 in Groblershoop in hegtenis geneem en dwelms gekonfiskeer is.
Die niksvermoedende handelaar is by ‘n padblokkade voorgekeer met ‘n besending dwelms met ‘n geraamde waarde van byna twee miljoen rand.
Die lede van Groblershoop Vispol was besig met ‘n padblokkade as deel van Shanela Operasie 2 hoëdigtheidsaksies buite Groblershoop toe die voertuig vir roetine-inspeksie voorgekeer is.
Sakeman na bewering langs die N7 geroof
GEMSBOK-NABABEEP: Die Nababeep SAPD ondersoek ‘n saak van roof na aanleiding van ‘n voorval wat op Woensdag 12 November 2025 omstreeks 14:00 op die N7 naby Okiep plaasgevind het.
Volgens die klaer, ‘n 49-jarige buitelandse sakeman, was hy op pad van Windhoek na Kaapstad vir besigheid toe die beweerde voorval plaasgevind het.
Hy beweer verder dat ‘n onbekende wit voertuig hom verbygesteek en skielik voor sy voertuig naby die brug in Okiep gestop het.
Met die stilhou van die voertuig het twee onbekende mans uit die wit voertuig geklim en hom genader.
Ons Rayno steeds die sterkste van die sterkstes!
Rayno Nel (30), 'n oud- Veltie-en Upington-seun van geboorte, (in middel), het die afgelope naweek vir 'n tweede agtereenvolgende jaar die "Strongman Champions League World Champions" in sy geboortedorp verower en dié gesogte titel voor die neuse weggeraap van internasionale kragmanne van oor die hele wêreld. Rayno het Saterdag twee wêreldrekords
verbeter, naamlik in die Africa Stone en Hercules Hold. Hier op ons foto is Rayno so pas as die sterkste man ter wêreld aangewys. Links verskyn Kevin Hazeleger van Nederland wat tweede geëindig het. In die derde posisie is die kragman van Pole, Adam Roszkowski. 'n Groot skare het hierdie opwindende vertoning van krag en deursettingsvermoë aanskou. Sondagmiddag is Rayno Nel (145 kg) as die wenner van die “Strongman Champions League” aangewys met 85 punte. Dit was ‘n belewenis vir die groot skare mense wat gedurende die twee dae die 12 manne van regoor die wêreld aangepor en ondersteun het. Kevin Halzeleger (160 kg) was tweede met 70 punte. 3de was Adam Roszlowski (150 kg) van Pole met 69 punte. 4de: Brian Kitchton van die VSA met 68 punte en Evans Nana van Ghana was 5de met 61.5 punte.
Daggahandelaar betrap met massiewe hidroponiese vonds
GEMSBOK-UPINGTON: Die ZFM-distrikspolisie het beduidende vordering gemaak in hul missie om dwelms van die strate te verwyder en het twee verdagtes in afsonderlike voorvalle tydens Operasie Shanela-aktiwiteite tussen 30 Oktober en 3 November in hegtenis geneem.
In een voorval is ‘n 41-jarige man in hegtenis geneem nadat die polisie hidroponiese dagga met ‘n geraamde straatwaarde van R360,000 op sy perseel ontdek het. Die ver-dagte sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
In ‘n ander voorval is ‘n man in Keimoes in hegtenis geneem vir die besit van mandrax-tablette met ‘n geraamde straatwaarde van R20,000 tydens roetine-patrollies.








